23/07/2026
23 Julie 1853 – Die Voortrekkerleier Andries Pretorius sterf. Sy seun, Marthinus Wessel Pretorius, volg hom op as Kommandant-generaal van die distrikte Potchefstroom en Rustenburg.
"Staatsman in die skadu's"
Marthinus Wessel Pretorius word dikwels oorskadu deur die nalatenskap van sy vader, Andries Pretorius – of "Ngalonkulu", soos die Zoeloes hom genoem het – die bekende Voortrekkerleier wat ná Piet Retief se dood die leiding van die Voortrekkers in Natal oorgeneem het.
Ná die Britse anneksasie van die Republiek van Natalia vestig M.W. Pretorius hom in Potchefstroom. Met sy vader se afsterwe in 1853 volg hy hom op as Kommandant-generaal van die distrikte Potchefstroom en Rustenburg.
Die grootste uitdaging wat op sy skouers gerus het, was om eenheid onder die Voortrekkers te smee. Hy het besef dat dit slegs moontlik sou wees indien 'n nuwe republiek met eie instellings en simbole geskep word.
Ná die Sandrivierkonvensie is die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) gevestig, met Potchefstroom as administratiewe hoofstad. Pretorius het ook 'n belangrike rol gespeel in die opstel van die grondwet van die nuwe republiek.
Hoewel Potchefstroom die administratiewe hoofstad was, het hy besef dat geen bestaande distrik maklik sou aanvaar dat 'n ander dorp as permanente hoofstad dien nie. Daarom het hy in 1855 'n nuwe dorp aan die Apiesrivier laat uitlê en dit Pretoria Philadelphia ("Die Broederskap van Pretoria") genoem, ter ere van sy vader, Andries Pretorius.
Op 38-jarige ouderdom, in 1857, is hy as die eerste president van die ZAR verkies. Sy groot ideaal was om die twee Boererepublieke – die ZAR en die Oranje-Vrystaat – tot een staat te verenig.
In 1859 is hy ook tot president van die Oranje-Vrystaat verkies en het hy vir 'n tyd lank gelyktydig as president van beide republieke gedien. Hy het egter in 1863 as president van die Oranje-Vrystaat bedank.
In 1864 is hy weer as president van die ZAR verkies. Ná die Eerste Anglo-Boereoorlog het hy deel gevorm van die Driemanskap (Triumviraat) saam met Paul Kruger en Piet Joubert, wat die bestuur van die republiek behartig het. As oudste lid van die Driemanskap (61), en met jare se ervaring in staatsake, het hy leiding gegee aan die jonger Paul Kruger (55) en Piet Joubert (46).
In 1883 is Paul Kruger tot president van die ZAR verkies – 'n amp wat hy tot sy vertrek na Europa in 1900 beklee het.
Daarna het M.W. Pretorius hom geleidelik aan die openbare lewe onttrek en hom weer op Potchefstroom gevestig, waar hy in 1901, tydens die Tweede Anglo-Boereoorlog, op 81-jarige ouderdom oorlede is.
Hoewel hy diep spore in die vroeë geskiedenis van die Boererepublieke getrap het, is dit opvallend hoe min mense vandag van Marthinus Wessel Pretorius weet. Hy was 'n staatsman in 'n tyd toe sterk leierskap onontbeerlik was, maar sy nalatenskap is dikwels oorskadu deur dié van sy vader, Andries Pretorius, en later ook deur Paul Kruger.
Vandag staan die standbeelde van Andries Pretorius en Marthinus Wessel Pretorius oorkant die Pretoria-stadsaal op Pretoriusplein – 'n gepaste huldeblyk aan 'n vader en seun wat albei 'n bepalende rol in die geskiedenis van die Boererepublieke gespeel het.