21/06/2021
Ek lees nou die dag weer die ongelooflike vers in Lukas 12:27 raak...
~ Hoe God voorsien vir die blomme en lelies van die veld.
~ Hoe Hy hulle aantrek met die mooiste blommekrans.
~ Hoe hulle groei in die teenwoordigheid van Sy Genade.
God belowe in Sy Woord dat Hy soveel meer aan my en jou wil gee, as aan hierdie veldblomme. Hy wil voorsien in my en jou behoeftes, deel wees van ons drome en ons op die pad lei om in Sy volheid te blom.
Alles wat ek aanpak probeer ek in die g***s van Sy Lig doen en vandag wil ek 'n stukkie van daardie Lig vir jou aangee. Al voel dit vir jou of die wêreld jou nie raaksien nie, God sien jou en jou hart raak. Hy sal altyd voorsien wat jy nodig het en soveel meer, net soos vir die lelies van die veld - daarvan kan ek getuig.
Nog voordat Muurblommetjie gebore is, het God reeds die pad voorsien waarlangs ek moes loop. God het my herinner in Lukas 12:27 dat dit nie saak maak wat vir my moontlik is nie, maar wat vir Hom moontlik is. Ek moet Hom net vertrou.
Juis omdat hierdie Bybelvers vir my soveel beteken en 'n getuienis is van God se voorsiening, het ek besluit om dit op die Muurblommetjie label te laat druk. Ek voel so bevoorreg om kind van God genoem te word.
Mag dit jou ook herinner elke keer as jy binne die hempie loer en die vers sien, dat God groot en wonderlike dinge vir jou in gedagte het en dat jy nou kan blom in die stille wete dat jy nie hoef te bekommer oor die toekoms nie.