07/05/2026
'n Ding wat aanhou klop aan my voordeur moet ingenooi word.
Ek was nie lus om met min te praat nie, maar hoe langer ek vat hoe harder gaan hy mos klop.
Min is 'n klein woordjie maar hy het wragtag seker die mooiste stories om te vertel.
Min se stories lê regdeur die Bybel, want lank voor ons nog hier was het God mense al geleer van min.
Die weduwee het te min gehad om haar skuld te betaal. God het vir haar gesê om leë bottels by al die bure te gaan leen.
Sy het min verstaan en was seker só skaam.
Wat agter haar huis se toedeure met al die leë bottels gebeur het, was tussen haar en God.
Toe sy luister, eers toe raak haar min baie.
Ek lees sommer raak ook oor Jesus wat te min tyd gehad het om by Laserus uit te kom.
En ek lees weer die storie waar die wyn hopeloos te min was op die troue.
Oor en oor moet ek leer dat sonder luister
glo en hoop, jou min net altyd te min gaan wees, al loop dit oor.
Wat ek wel weet is dat 'n gehoorsame kind met twee vissies in sy Glo-hande, genoeg het...en dat 'n koppie wat oorloop van genoeg, niks te doen het met dit wat oorloop nie.
Sit aan die ketel - Amptelike Blad -
©Yolande Brittnell-Steyn
Aanlynwinkel: www.sitaandieketel.co.za